PanSAT DEEL IN DIE NASIONALE VIERING VAN 100 JAAR VAN AFRIKAANS AS ’N AMPTELIKE TAAL

Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) sal op Donderdag, 8 Mei 2025 saam met die nasie ’n eeu herdenk sedert die amptelike erkenning en standaardisering van Afrikaans as ’n amptelike taal.  Hierdie mylpaal merk die aanname van die Wet op die Amptelike tale van die Unie Wet Nr. 8 van 1925 wat Afrikaans formeel gevestig het, en Nederlands as amptelike taal van Suid-Afrika vervang het, naas Engels, met die uitsluiting van inheemse Afrikatale.

Afrikaans het ontstaan gedurende die 18de eeu in die Nederlandse Kaapkolonie, en het ontwikkel vanuit Nederlandse dialekte tot ’n afsonderlike taal.  Alhoewel meestal gemarginaliseerd en na verwys as Kombuistaal, het Afrikaans gegroei tot een van Suid-Afrika se mees gesproke tale, en is dit huidig die eerstetaal van ongeveer 6,4 miljoen mense, of 10,6 % van die nasionale bevolking, en 60% van die moedertaalsprekers van Afrikaans is swart en meestal Kleurlinge. Wêreldwyd praat ongeveer 7,4 miljoen mense Afrikaans as hul moedertaal, met Afrikaanse gemeenskappe in Namibië, Botswana, Eswatini, en die diaspora in lande soos Australië, Neeu-Seeland, Kanada en die Verenigde Koninkryk.

“Soos wat ons Afrikaans herdenk, doen ons dit ingevolge ons grondwetlike mandaat om alle amptelike tale in Suid-Afrika te bevorder en te beskerm,” het PanSAT se Raadsvoorsitter, prof. Lolie Makhubu-Badenhorst gesê. “Afrikaans speel ’n voortdurende belangrike rol in ons samelewing, onderwysstelsel en ekonomiese ontwikkeling. Dit word in gemeenskappe gepraat wat aktief bydra tot die nasie se vooruitgang,” het sy verder bevestig.

Prof. Makhubu-Badenhorst het verder beklemtoon dat Afrikaans, soos alle Suid-Afrikaanse tale, gelyke status en ondersteuning verdien: “Taal is ’n fundamentele deel van ons identiteit, kultuur en erfenis. Afrikaans is nie die behoud van enige ras- of etniese groep nie, maar dit is ’n gedeelde linguistiese hulpbron wat deur almal wat dit praat gevorm is.”

Die viering van hierdie eeufees dien ook as bevordering van meertaligheid, linguistiese diversiteit en inklusiewe kulturele uitdrukking.  PanSAT erken die geskiedkundige konteks waarin Afrikaans amptelike status verkry het as ’n proses wat nie-blanke Afrikaanssprekendes uitgesluit het en wat die amptelike erkenning van die variëteite wat deur die meerderheid sprekers van die taal gepraat is ontken het. Hierdie pynlike nalatenskap beklemtoon die belangrikheid om Afrikaans te vier op ’n manier wat al haar sprekers en al haar variëteite, standaard en nie-standaard, te eerbiedig.

Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), ’n wettige PanSAT-struktuur, het ’n duidelike standpunt oor hierdie inklusiewe visie ingeneem.  Die NTLA erken dat die ontwikkeling van Afrikaans gebeur het binne ’n breër konteks van sistematiese uitsluiting, maar die NTLA bevestig vandag dat geen enkele variëteit van Afrikaans beter as die ander beskou moet word nie.  Die NTLA is die bewaarder van alle variëteite van Afrikaans en is toegewyd om die volle spektrum van die Afrikaanssprekende gemeenskap te dien.

PanSAT vind die inklusiewe rigting van die Afrikaans 100 Padkaart as bemoedigend en merk met waardering dat die veldtog Afrikaans as ’n taal erken wat aan al haar sprekers behoort, met wortels wat verder terug as 1925 strek. Die erkenning van bydrae vanuit histories gemarginaliseerde gemeenskappe soos die Khoe en San en verslaafde volke wie die vroegste vorme van Afrikaans gevorm het, is ’n stap in die rigting van genesing en eenheid.

PanSAT ondersteun Afrikaans 100 inisiatiewe wat hierdie inklusiewe gees weerspieël en in ooreenstemming is met PanSAT se visie van gelyke taalontwikkeling vir al Suid-Afrika se amptelike tale.

Share:

Facebook
Twitter
Pinterest
LinkedIn

Related Posts