Deur Nina Brink en die Kindertaalontwikkelingsnoduslede
Kinders se taalgebruik word deur hul sosiale, kulturele, geografiese en taalkundige omgewings gevorm en hierdie faktore het ʼn effek op hul neurokognitiewe groei. Dit is derhalwe noodsaaklik om vroeë taalontwikkeling in verskillende kontekste te bestudeer. In ‘n veeltalige land soos Suid-Afrika bied sodanige navorsing belangrike insigte in hoe kinders taal in die daaglikse lewe gebruik, hoe taalontwikkeling tussen tale en gemeenskappe verskil, en hoe konteks taalverwerwing beïnvloed. Hierdie kennis vorm die grondslag vir die ontwikkeling van geldige, kultuurtoepaslike assesseringsinstrumente wat vroeë identifisering van taalontwikkelingsuitdagings ondersteun en bewysgebaseerde intervensies bevorder.
Alhoewel die daarstelling van taalspesifieke ontwikkelingsnorme in Suid-Afrika uiters belangrik is ten einde toepaslike assesseringsinstrumente te ontwerp, is sodanige studies wat die onderbou hiervan moet vorm baie beperk. Hierdie leemte het gelei tot ʼn grootskaalse navorsingsprojek wat grotendeels deur SADiLaR (South African Centre for Digital Language Resources) befonds word, naamlik die Kindertaalontwikkelingsnodus, gehuisves deur Stellenbosch Universiteit. Die Kindertaalontwikkelingsnodus se hoofdoelwitte is om navorsing oor kinders se taalontwikkeling in al die amptelike tale van Suid-Afrika vanaf geboorte tot adolessensie te bevorder en om volhoubare navorsingsinfrastruktuur te ontwikkel deur middel van data-insameling, digitalisering en ooptoegangshulpbronne. Die gewenste uitwerking van hierdie doelwitte is die daarstelling van kultuur- en taaltoepaslike instrumente vir die meting van tipiese en atipiese taalontwikkeling in inheemse tale, die versterking van professionele kapasiteit in ons tale binne die gesondheids-, rehabilitasie- en onderwyssektore en die ontwikkeling van bewysgebaseerde intervensies om taalverwerwing en kognitiewe ontwikkeling te ondersteun.
Die Nodus se vlagskipprojek is ʼn inter-institusionele samewerking wat fokus op die vertaling en aanpassing van die MacArthur-Bates Kommunikatiewe-Ontwikkelingsinventarisse (“Communicative Development Inventories – CDI’s”) vir al elf amptelik gesproke Suid-Afrikaanse tale. CDI’s is vraelyste waarin ouers of primêre versorgers van kinders tussen die ouderdomme van 8 en 32 maande gevra word om verslag te doen van die kinders se gebruik van gebare, woorde en vroeë sinskonstruksies. Hierdie inventarisse is goeie aanduiders van kommunikatiewe ontwikkeling en is reeds vir meer as 100 tale wêreldwyd vertaal en aangepas. CDI’s is al regoor die wêreld gebruik om die verskillende fases in taalontwikkeling te identifiseer en gepaste norme vir vroeë taalverwerwing te verkry wat op hulle beurt die basis vorm vir die ontwikkeling van linguistiese en kognitiewe assesseringsinstrumente en diagnostiese hulpmiddels in baie lande.
Tot op hede het ʼn toegewyde navorsingspan vir elke amptelik gesproke taal van Suid-Afrika twee CDI’s vir daardie taal geskep: een wat babas (8 tot 16 maande) se vroeë kommunikatiewe gebare, taalbegrip en -produksie meet, en een wat peuters (16 tot 32 maande) se vroeë taalproduksie en grammatikale ontwikkeling meet. Hierdie instrumente is tydens ʼn eerste fase van data-insameling gebruik om data van ongeveer 200 kinders per taal in te samel ten einde die instrumente verder te verfyn. Daarna het die validasieproses van die CDI’s begin wat tans hand aan hand loop met die normeringsfase. Die eerste twee tale wat tans genormeer word, is isiXhosa en Afrikaans en ons navorsingspanne werk tans saam met 1600 ouers en/of versorgers in beide hierdie tale.
Na afhandeling van die verskillende navorsingstappe om die CDI’s van al die tale te finaliseer, sal hierdie instrumente gratis aanlyn beskikbaar gestel word deur SADiLaR. Dit sal ʼn besonder waardevolle mylpaal wees vir die bevordering van gepaste taalassesseringsinstrumente wat die unieke Suid-Afrikaanse konteks in ag neem. ʼn Groot droom vir die Kindertaalontwikkelingsnodus is om uiteindelik ook meertalige CDI’s te ontwikkel wat geskik sal wees vir die veeltalige samelewing waarbinne die meeste Suid-Afrikaanse kinders grootword. Vir meer inligting oor hierdie navorsingsprojek, kan die projekhoof, prof. Heather Brookes (heatherbrookes@sun.ac.za), gekontak word of die volgende webblaaie besoek word: https://sa-cdi.org/ / https://sadilar.org/en/stellenbosch-university/.



