Google en PanSAT stel KI-woordelys in isiZulu, isiXhosa en Afrikaans bekend

Johannesburg, 15 Oktober 2025 – Google, in vennootskap met die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), het ’n nuwe KI-woordelys vir isiZulu, isiXhosa en Afrikaans vrygestel. Hierdeur kry miljoene Suid-Afrikaners nou die taalhulpbronne om in hul moedertaal met kunsmatige intelligensie te werk.

Die bekendstelling het plaasgevind by Google Suid-Afrika se kantore in Johannesburg, waar verteenwoordigers van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, die Departement Sport, Kuns en Kultuur, die Departement Basiese Onderwys, die Departement Hoër Onderwys en Opleiding, die SABC asook akademici, vertalers en taalkenners byeengekom het. Die geleentheid het ’n paneelbespreking ingesluit oor hoe die Afrikatale by nuwe tegnologie kan aanpas.

Die woordelys definieer 100 standaard- KI-terme in elk van die drie inheemse tale. Hierdie projek bou voort op vroeëre werk waar ’n Swahili-weergawe daarvan vir Oos-Afrika geskep is. Dit maak deel uit van ’n omvattende samewerking tussen Google en Afrika-vennote om digitale innovasie meer inklusief te maak en die digitale kloof te oorbrug vir ’n geskatte 266 miljoen sprekers van hierdie vier tale oor die kontinent heen.

Onder die gedefinieerde terme is alledaagse begrippe soos gesprek-KI – stelsels wat menslike dialoog simuleer deur natuurliketaalverwerking – en hallusinasie, wat gevalle beskryf waar KI-gereedskap inligting genereer wat oortuigend klink maar foutief is. Ander inskrywings, soos aktiewe leer en raserige data,verduidelik hoe masjiene opgelei en verfyn word deur interaksie en die filtreer van inligting.

In Afrika is Engels die dominante taal van tegnologie en die wetenskap, wat dit moeiliker maak vir nie-Engelssprekendes om deel te raak van gesprekke oor nuwe tegnologie. Deur sleutelkonsepte oor KI in plaaslike tale te vertaal en te definieer, help die woordelys om hierdie gaping te vul. Dit gee mense die woordeskat om met selfvertroue betrokke te raak by nuwe tegnologie, en dit ondersteun ontwikkelaars, opvoeders, vertalers en gewone gebruikers.

Die ontwikkeling van die woordelys was ’n omvattende stuk spanwerk. Google, tesame met Twaweza Communications en PanSAT, het ’n reeks gesprekke en werksessies met taalkundiges, leksikograwe, KI-kenners en rolspelers uit die regering en die akademie gehou. Hierdie proses het oor etlike dae gestrek en het verseker dat die terme nie bloot vertaal is nie, maar aangepas en gestandaardiseer is vir elke taal, om te verseker dat dit akkuraat en kultureel relevant is.

Google se Direkteur in die land, Kabelo Makwane, sê die projek wys wat bereik kan word wanneer tegnologiemaatskappye en taalliggame saamwerk. “Ons wil hê almal moet die woordeskat hê om die tegnologie wat die wêreld verander, te verstaan en te help vorm,” volgens Makwane.

Volgens PanSAT se hoof- uitvoerende beampte, Lance Schultz, illustreer die samewerking hoe taalontwikkeling en digitale innovasie hand-aan-hand loop. “Ons mikpunt is om te verseker dat Suid-Afrika se tale lewend, relevant en aanpasbaar bly”, sê Schultz. “Deur KI-terme te standaardiseer, help ons om ons tale te moderniseer en te verseker dat hul sprekers nie uitgesluit word uit die wêreldwye digitale diskoers nie.”

Die woordelys is reeds beskikbaar en sal gratis toeganklik wees vir die publiek. Dit dien as ’n verwysingsbron vir enigeen wat in opvoeding, vertaling of tegnologie werk, en ondersteun deurlopende projekte om taalinklusiwiteit reg oor die kontinent te bevorder.

Ons nooi navorsers, opvoeders, ontwikkelaars, vertalers, tolke, beleidmakers en taalentoesiaste om die volle woordelys oop te maak op GitHub en die terme te begin gebruik in julle gesprekke, kurrikulums en tegnologie. Dit is hoe ons tesame die digitale kloof oorbrug.

Share:

Facebook
Twitter
Pinterest
LinkedIn

Related Posts