Afrikaans oral waar jy kyk in die digitale wêreld

Benito Trollip

Navorser by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR)

Lid van die NTLA

benito.trollip@nwu.ac.za

 

Die rol wat tegnologie in die lewe van mense wêreldwyd speel, is onmiskenbaar. Al kan die mate waartoe ons met tegnologie te doen kry verskil, is dit nie te betwyfel dat ons op een of ander manier met tegnologie te doen kry nie. Taal is reeds ʼn vorm van tegnologie wat ons in staat stel om dinge te doen wat kwalik daarsonder moontlik sou wees – ʼn mens kan in hierdie geval aan poësie of daaglikse hofgedinge dink. Uiteindelik is enige tegnologie effektief in soverre dit ons op ʼn manier in staat stel om iets te doen wat ons nie daarsonder enigsins sou kon vermag het nie. Tegnologie stel ons ook in staat om iets wat voorheen moontlik was makliker reg te kry. Die GPS wat jou na die kantoorgebou toe vat waar jy ʼn nuwe kliënt moet ontmoet, die soekenjin waarin jy soek vir inleidende bronne oor byeboerdery, en jou huis se alarm is elkeen moderne vorme van tegnologie wat jy gebruik om sekere take te verrig. Daar is ook meer algemene toepassings van tegnologie wat die stuur van boodskappe of e-posse via sosialemediaplatforms, YouTubevideo’s, items aanlyn bestel of die plasing en lees van bloginskrywings insluit. Die internet en die digitale ruimte oor die algemeen is tegnologie waarsonder baie mense nie hulle lewe sal kan indink nie.

 

Vrae wat ontstaan, is hoe Afrikaans in die verskillende sfere van die digitale ruimte verteenwoordig word en hoekom is dit belangrik? Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat die digitale teenwoordigheid van ʼn taal, veral in die 21e eeu en met inagneming van die vierde nywerheidsrewolusie, van kardinale belang is vir die groei en volgehoue gebruik van ʼn taal. In hierdie opiniestuk word die teenwoordigheid van Afrikaans in verskeie digitale sfere, asook die belang daarvan, met behulp van enkele voorbeelde geïllustreer. Daar word oorweging geskenk aan informele en meer formele platforms waar Afrikaans gebruik word. Vir doeleindes van hierdie stuk moet ʼn vrywaring gegee word dat die webtuistes wat ter illustrasie gebruik word as voorbeelde dien, nie geadverteer word nie. Die opiniestukskrywer word geensins vir die noem of gebruik daarvan vergoed nie.

 

Die kort antwoord op die eerste deel van die vraag wat gestel is, is dat Afrikaans op ʼn ryk verskeidenheid maniere in die digitale ruimte gebruik word. Dit is onwaarskynlik dat die totale omvang van Afrikaans se gebruik aanlyn gepeil kan word, maar volgens Web Technology Surveys word Afrikaans op minder as 0.1% webtuistes gebruik. Hierdie persentasie klink laag en selfs soos ʼn statistiek wat liefs nie aangehaal moet word nie, maar as ʼn mens oorweeg dat daar volgens Internet Live Stats na raming  1 907 011 272 webtuistes bestaan (nie almal aktief nie), is 0.1% vir ʼn jong taal soos Afrikaans nie te versmaai nie. As ʼn persoon wat se werk grootliks behels om digitale geesteswetenskappe op verskillende maniere te bevorder, is dit opvallend om te sien waar en hoe Afrikaan vorm gegee word in die digitale ruimte. Daar is te veel voorbeelde om te noem: Afrikaans word gebruik op algemeen bekende platforms soos Facebook, Wikipedia en Twitter, maar ook op die webtuistes van winkels wat gedeeltelik of geheel aanlyn bedryf word, soos Gegrond en Graffiti. Afrikaans word ook op universiteite se webtuistes gebruik, soos in die geval van Universiteit Stellenbosch (SU) en Noordwes-Universiteit (NWU). Dit val buite die bestek van hierdie skryfstuk om na alle gevalle van Afrikaans op die internet te kyk. Vervolgens word aandag geskenk aan enkele gevalle in formele en informele kontekste waar Afrikaans gebruik word.

 

Eerstens kan die formele sfere waarin Afrikaans voorkom, oorweeg word. Met formele sfere word, vir doeleindes van hierdie bespreking, spesifiek verwys na aanlyn platforms wat op navorsing of ʼn opvoedkundige oogmerke gemik is. Die algemene aanlyn ensiklopedie Wikipedia dien as die eerste voorbeeld: Die Afrikaanse Wikipedia, met meer as 101 000 artikels, dui duidelik op ʼn aktiewe teenwoordigheid van Afrikaanse bydraers. In ʼn onlangse onderhoud op RSG is daar onder ander verwys na die entoesiasme van die gemeenskap wat al vir twintig jaar artikels tot die Afrikaanse Wikipedia bydra. Wikipedia is ʼn oop bron wat dit toeganklik maak vir die breedste publiek denkbaar – mense is welkom om die inhoud te raadpleeg, maar ook inhoud by te dra. ʼn Tweede voorbeeld van Afrikaans wat formeel gebruik word, is in die konteks van projekte. ʼn Onlangse projek wat geloods is, naamlik die Drietalige Woordeboek vir Kaaps (DWK), dien as een voorbeeld. Die projek stel die aktiewe bevordering en beskrywing van Kaaps op verskillende maniere in die vooruitsig, met ʼn drietalige woordeboek (Afrikaans, Engels en Kaaps) as ʼn verdere uitset. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se woordeboekportaal is ʼn ander voortdurende projek waarin Afrikaanse woordeboeke (ook tweetalige woordeboeke) aanlyn geraadpleeg kan word. ʼn Derde voorbeeld wat onder formele aanlyn platforms gekategoriseer kan word en in meer detail bespreek sal word, is institusionele pakhuise (meer algemeen bekend in Engels as institutional repositories).

 

Volgens Moyo en Bangani (2019) het 23 van die 26 openbare universiteite in Suid-Afrika institusionele pakhuise. ʼn Voorbeeld van ʼn institusionele pakhuis is Boloka van die NWU. In Boloka vind ʼn mens elektroniese en aflaaibare weergawes van intreeredes, sommige Afrikana asook konferensiebydraes om net enkele voorbeelde te noem. Enige persoon wat die pakhuis besoek, kan die beskikbare bronne wat aflaaibaar is gratis aflaai. Tans vorm tesisse en proefskrifte die grootste deel van die pakhuis (teen 19 November was daar 13357 beskikbaar).  Op hierdie manier is die navorsing wat by Suid-Afrikaanse universiteite gedoen word toeganklik vir ʼn breër publiek, en kan navorsers wêreldwyd toegang verkry tot navorsing wat aan plaaslike universiteite gedoen is. Een elemente wat die bronne in Boloka en in ander pakhuise selfs beter maak, is die feit dat elke bron ʼn persistent identifier oftewel ʼn unieke skakel het. Hierdie skakel het uiteindelik ten doel om elke individuele bron vindbaar te maak, sonder om noodwendig deur die hele pakhuis daarvoor te soek. ʼn Onlangse proefskrif wat in Afrikaans geskryf is wat op die pakhuis opgelaai is, is ED Ferreira se Aanpassingspatrone van ʼn kultuurorganisasie by  ʼn veranderende politieke en kulturele milieu: Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) tussen 1980 en 2009 – die skakel verskyn in die lys van bronne aan die einde van hierdie stuk.

 

ʼn Ander institusionele pakhuis, wat nie aan ʼn spesifieke universiteit gekoppel is of proefskrifte as primêre bronne bevat nie, is die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) se pakhuis. In SADiLaR se pakhuis val die klem op ander tipe navorsingsuitsette, soos byvoorbeeld sagteware/toepassings en datastelle. Die toepassings is gerig op die analise van taal, soos byvoorbeeld deur benoemde-entitietsherkenning (BEH). BEH is ʼn vorm van teksverwerking waarin benoemde entiteite (soos mense, plekke en organisasies) outomaties geïdentifiseer word. ʼn Toepassing wat geskik is om hierdie funksie (maar ook ander soos lemmatisering) vir die Suid-Afrikaanse tale te verrig, is CText Tools 2. Die CText Tools 2-toepassing is aflaaibaar en gebruikers kan ʼn dokument oplaai en benoemde entiteite sal outomaties (en relatief akkuraat) gemerk word.  Met behulp van SADiLaR se pakhuis word bronne vindbaar gemaak vir mense of navorsers wat in taalhulpbronne sou belang stel. Die pakhuis bied aan organisasies of individue die geleentheid om die  bronne wat hulle geskep het op ʼn veilige platform te versprei en onder hulle eie lisensievoorwaardes vir ander belangstellendes beskikbaar te maak. Uiteindelik is die idee om ʼn sentrale punt te hê waar hulpbronne vir die elf amptelike landstale opgespoor kan word, sodat navorsers of instansies kan voortbou op dit wat reeds gedoen is. Nie alle bronne op die pakhuis is aflaaibaar nie, maar kontakbesonderhede van die persoon wat die bron geskep of betrokke was by de skep daarvan, is beskikbaar. ʼn Onlangse hulpbron wat op die pakhuis gelaai is, waarin Afrikaans voorkom, is COVID-19 Multilingual Terminology – die skakel verskyn in die lys van bronne aan die einde van hierdie stuk.

 

 

So belangrik soos wat Afrikaans se verteenwoordiging in formeler kontekste soos byvoorbeeld universiteite of ander organisasies se institusionele pakhuise is, so belangrik is dit om Afrikaans op informeler platforms te kry. Wanneer daar informele platforms is waarop Afrikaans gebesig word, spreek dit ʼn algemener behoefte tot kommunikasie aan. Onder informeler platforms tel byvoorbeeld sosialemediaplatforms en winkels se webtuistes soos vroeë in die bespreking na verwys is. Ander voorbeelde sluit radiostasies se webtuistes asook webtuistes waarop kreatiewe skryfwerk in Afrikaans gepubliseer word, in. Een voorbeeld is die webtuiste van Radio Sonder Grense waarop verskillende Afrikaanse inhoud gedeel en gegenereer word. Op RSG se webtuiste is podsendings van vorige programme, resepte en ander inhoud in Afrikaans beskikbaar. ʼn Algemeen bekende webtuiste waarop daar, onder andere, gedigte en essays én akademiese artikels in Afrikaans gepubliseer word, is LitNet. Daar is nog baie voorbeelde, maar dit is nie moontlik om almal te bespreek nie.

 

Met inagneming van die tipes digitale sfere wat reeds onderskei is, moet daar ook oorweging geskenk word aan webtuistes waar die onderskeid nie so maklik is om te tref nie. ʼn Voorbeeld wat genoem kan word, is SADiLaR se webtuiste – nie soseer die pakhuis se webtuiste in isolasie nie. Op SADiLaR se webtuiste word daar ook nuus oor die sentrum, bloginskrywings deur die navorsers asook SADiLaR se nuusbriewe gedeel. Die inhoud varieer daarom tussen uiters formeel, soos in die pakhuis en in sommige bloginskrywings, tot meer informeel soos nuusgebeure en advertensies vir kollokwiums. Aanlyn bronne soos die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en VivA kan ook geklassifiseer word iewers tussenin die uiters formele en informele platforms. In die geval van VivA is daar werklik ʼn indrukwekkende reikwydte van inhoud: VivA se korpusportaal en woordeboekportaal is meer formeel, terwyl van die bloginskrywings meer informeel is. Dit is nie altyd moontlik of selfs nodig om strak tussen formele en minder formele platforms te onderskei nie – SADiLaR, VivA en die WAT is slegs voorbeelde van webtuistes waarop formele inhoud en informele inhoud in Afrikaans beskikbaar is. Die feit dat daar ʼn omarming van verskillende kontekste is, wys op bewustheid van die dinamiese funksies wat Afrikaans in die digitale ruimte kan vul.

 

Dit is ʼn gerieflike probleem om te hê wanneer daar so baie plekke is waar jy Afrikaans kan kry, dat jy dit nie eers naastenby almal kan opnoem nie! Terselfdertyd bevestig die omvang van Afrikaans se gebruik in die digitale wêreld die belangrikheid daarvan. Daar behoort nie enige twyfel te bestaan dat die sosiale, kommersiële en akademiese waarde van Afrikaans in die digitale ruimte  meesterlik toegepas en uitgebrei word deur haar gebruikers nie. Met die toenemende migrasie van mense na digitale ruimtes toe, hetsy weens werksomstandighede of vir persoonlike redes, is die geleenthede vir Afrikaans legio. Die huidige stand van ons samelewing skep al hoe meer geleenthede vir die gebruik van al hoe meer Afrikaans op al hoe meer plekke.

 

Bronne waarna verwys is

Share:

Facebook
Twitter
Pinterest
LinkedIn

Related Posts